Oor draketande, soetjiespoepers, fynproewers en wors

Stad: Stellenbosch
Verschenen in: Land Art
Of beluister dit citybook hier:

Prelude.

Draketande – Andante narrante

 

‘Daar’s ʼn dorpie wat ek ken daar tussen die blou berge/En die lower van die eike oor die straat. Hierdie aanvang  van ʼn liedjie deur die bekende liriekskrywer Koos Kombuis is reeds ʼn aanduiding van die parogiale sfeer van wit Stellenbosch. In ʼn lig ironiese, outobiografiese trant word die studentelewe in Stellenbosch voorts voorgestel as ʼn gefuif en ʼn gevry, ‘die hele lewe was ʼn bring en braai’. Vergeleke by die polities gemobiliseerde gees wat indertyd by die Universiteit van Kaapstad geheers het, skets die liedjie ʼn kinderlike en naïewe prentjie wat met klein variasies vier dekades later nog steeds op die dorp van toepassing is. Daarby word die dorp, al staan die oudste Universiteit van Suid-Afrika hier, deur vele inwoners en besoekers hoofsaaklik geassosieer met wyn, kos en Kaaps-Hollandse gewels. Deur sy skilderagtige ligging en relatiewe isolasie, (sommige sal sê dis ʼn voorstad van Oranjezicht), is dit egter ʼn dorp wat uitstekende insig bied in die historiese ontwikkelingstrajek van die mensesoort wat sigself hier in die sestienhonderds aan die onderpunt van Afrika, toegerus met Bybel, perd, planne en geweer, as die Lig van die Suide gepresenteer het –  en wat sigself vervolgens in die persoon van die sestienjarige raaskal Hendrik Biebouw met twyfelagtige oormoed en in weerwil van die Nederlandse  koloniale owerheid, op ʼn besope naweeksaand, in  Maart 1707, vir die eerste keer by die Kompanjiesmeul op Stellenbosch tot ‘Afrikaander’ verklaar het (Giliomee, 2003: 22).

        Onder verskillende ideologiese formasies het, deur die eeue heen, die metamorfose van hierdie ‘Afrikaander’ sigself voltrek: vanaf nedersetter tot agtereenvolgens, vryburger, slawehouer, dorpstigter, volksmoeder, teologiese kweekskoolleraar, universiteitsgrondlegger, Christelik- Nasionale broederbondprofessor, koorleier, eerste minister, digter, Sanlam en volkskasdirekteur, Krygkor-ingenieur, weermagkapelaan, taalbul in die laaste loopgraaf en oplaas, korporatiewe Big Man van die globale neo-liberale finansiële kapitalisme. Die jonger generasie wat hulle op Stellenbosch bevind, en waarvan ’n groot persentasie in handels- en akuariële wetenskappe studeer,  hou tot vandag toe die lawaaierig-fuifende Biebouw-tradisie in stand. En inderdaad hoef  ʼn mens ook nie slegs die ideologiese formasies te ondervra om die metamorfoses van hierdie Afrikaner te probeer verstaan nie. Mens kan  ook die materieelste van alle kulture, naamlik die kulinêre kultuur, raadpleeg, ten einde insig te verwerf in sy opkoms, heerskappy en ondergang.

        Die etende Afrikaner van Stellenbosch en die fases van sy evolusie is in hoë mate ondersoek werd. Benewens sy kulturele argiewe, institusionele  notules en letterkunde, sal dit ook sy maag-inhoud  wees – sy vullissakke, ou yskaste, en stortingsterreine wat paleo-antropoloë  oor ʼn paar duisend jaar in staat sal stel om hom te identifiseer as Homo Bolandiendus Stellenboschianus.

        U sal miskien vra, waarom so sinies oor die spulletjie? Die mengelmoes mense van Europese afkom was ook maar deur die historiese noodlotsmagte geselekteer en tydens die periode van die blind-gierige Nederlandse koloniaal-merkantiele ekspansiedrif halsoorkop hier neergelaat.  Soos Kadmos se draketande is hulle skeepvrag vir skeepvrag deur die VOC en die Here XV11 hier ingesaai  ter wille van die  oprigting en handhawing van ʼn Kaapse verversingstasie. Hulle moes, synde aangeland uit die woeste bare, hulleself ʼn houding gee in ʼn onbegryplike wildernis. Hoe anders kon hulle dit doen as deur, by wyse van spreke, ʼn hoed op te sit, die omgewing te verken, die fontein te vind, die bedreiginge te identifiseer, die vlag te hys, die fort (met skietgate) te bou, die sloot te grawe, die heining op te rig, te bid, ʼn dagboek te begin en elke dag te vra: wat sal ons eet?

 

Intermezzo

Die onnutsige teoloog – Scherzo, tempo di sturb de neighbor

 

Daar is die staaltjie van die vrysinnige Stellenbosse teoloog wat in die sewentigerjare in ʼn onbewaakte oomblik die volgende fantasie op sy vrome studente losgelaat het. Stel u voor, jonge liede, het hy glo gesê, dat ons, ter wille van rus, vrede en geregtigheid in die wêreld nie alles doen wat ons as mense kán doen nie. Ons kán ons windmeulens gebruik om planke te saag en seilskepe te bou en na ander lande vaar om ons handel uit te brei maar ons kies om dit liewer nie te doen nie, ons kán, hier in Afrika aangeland met berede magte die wildernis kleim, riviere en valleie in ons taal benoem, die inboorlinge onderwerp, kranse en vlaktes tem en paaie, damme en kerke bou, maar ons  laat dit liefs agterweë, ons kán die heidene kersten, maar ons besondig ons eerder nie daaraan nie, ons kán goud diamante en staal uit die grond laat grawe met goedkoop arbeid om ons staatskas te verryk, maar ons doen graag afstand van die vermoë. Ons kán straaljaers, missiele en pantserwaens bou, maar ons vermy dit by voorkeur. Ons kán mense sistematies tot ons ondergeskiktes maak, hulle inperk tot afsonderlike gebiede en hulle die stemreg ontsê, maar ons doen dit liewer nie. Ons kán elke dag diere teel met die doel om hulle dood te maak en hulle vleis te eet, ons kán botter, konfyt en kaas op ons brood eet, maar ons weerhou ons van sulke uitspattinge met goeie rede – naamlik om aan ons gulsigheid, selfsug en heerssug te probeer ontkom. Op dié manier sou ons miskien God se raadsplan en bedoeling met die mens nader op die spoor bly.

        Volgens oorlewering het daar tydens hierdie teen-historiese verkondiging unisone krete van protes in die lesingsaal opgegaan en die teoloog moes met sy papiere dwarrelend en sy jas onvasgeknoop teen die winterse  dag, hals oor kop uit die lesingsaal vlug met ʼn trop raaskallende student op sy hiele. Klagtes van godslastering en heiligskennis is volgens oorlewering by die bestuur van die teologiefakulteit ingedien en die hele dorp was vir weke daarna in rep en roer.

        Tydens sy tugverhoor sou die teoloog homself glo verder geïnkrimineer het deur die gebruik van ironie. Hy het naamlik beweer dat hy nou pas begryp dat God vir alle praktiese doeleindes na die beeld van die Stellenbosser geskape is:  hy was ʼn volksplanter, ʼn slawehouer, ʼn grondlegger, ʼn beskawer, ʼn handelaar, ʼn kerstener, ʼn wingerdboer, ʼn ontginner (van kalk, warmwaterbronne, landbougrond) en eksploiteerder (van arbeid), ʼn burokraat, ʼn volksleier, ʼn goewerneur, ʼn generaal, ʼn eerste minister, ʼn lewensgenieter en veral ʼn fynproewer en wynkenner. Daarmee, het die teoloog gesê, begryp ons dat syn en moraal op Stellenbosch nog altyd volledig met mekaar saamgeval het, dat die werklikheid hier volgens die wit inwoners presies behoort te wees soos wat dit in feite is en was en daarom: lank lewe die status quo.

        In ʼn roekelose bui het die professor glo ook nog in ʼn gesprek na afloop van die tugverhoor aan drie van sy mededosente voorspel dat sy slotsom ʼn halwe eeu later deur polities onbetrokke universitêre kompleksiteitsteoretici herhaal sal word. Volgens hulle, het hy beweer, sou die werklikheid ʼn ingewikkelde selfregulerende sisteem wees wat alle menslike handelinge in sigself opneem in uiters langsame, vir ons ondeursigtige, prosesse; alles sou goedkom as elkeen bloot elke dag sy ding doen en sy brood belê met soveel as wat hy kan bekostig. So ʼn siening, sou volgens die teoloog neerkom op ʼn gevorderde wysgerige weergawe van daardie ou volkswysheid, naamlik dat die meule van God langsaam maal  –  ʼn spreuk wat volgens hom deur vorige geslagte  ook as die volgende waarskuwing opgeneem is: moenie alte entoesiasties pleit vir snelle maatskaplike verandering nie, dit sal vanself gebeur, stadigaan,  en dinge sal verander wanneer die tyd daarvoor deur die Voorsienigheid voldoende geryp is.

        Volgens omstanders het die drie toehoorders teen dié tyd hulle ore toegedruk uit vrees vir kontaminasie maar die professor was op dreef en het vry geïmproviseer, sy das in sy hand en sy bril op sy voorkop. Die ryping van die tyd, het hy voorgestel, is ʼn materiële een, soos bepaal deur vrye menslike keuses, nie iets voorbestem deur die Hoër hand nie en wel omdat die langsame meul van die een allerhoogste God nie die enigste meul is nie. Daar is ook die meul wat die meulenaar besit. En die meulenaar se brood, is die ander (wat die sekel swaai en die koringsakke dra) se dood. Sodra die brood/dood dinamiek goed op gang is, het hy verduidelik, verskyn daar onvermydelik ook twee gode; die god wat met orrelbegeleiding in die moederkerk in die middedorp geloof word en die ander god wat in die bedompige sinkgeboutjie  in Kayamandi sy ore uitleen aan die jammerklagtes van die miserabeles van die aarde. Hulle lyk verskillend, het hy gesê maar hulle is een en dieselfde, naamlik die Seun van God wat in die evangelies vertel dat hy nie net met die heil en die liefde kom nie maar ook met die swaard van stryd.

 

Prelude

Draketande vervolg – Andante narrante ma col pugno

 

Geen spoor bly vandag in Stellenbosch  nog oor van die destyds uitgeskopte teoloog se insig in die waarde van selfdissipline, ʼn praktyk van selfvorming deur onthouding, uitgestelde gratifikasie, askese, en afsondering nie, volgens hom die grondslag van alle groot kulture.  Vandag nog is die effekte van hierdie drie eeue lange proses van koloniaal-parogiale gulsigheid te sien, enersyds in die weelde waarin die boonste wit klasse nog steeds en toenemend lewe en andersyds in die voorkoms van massale armoede, verloedering, siekte en honger onder die swart en kleurling bevolkings in die Stellenbosch-omgewing.

        Op die vraag of daar vandag invloedryke uitgesproke denkers is wat die Stellenbosse jongmense op hierdie verbande en verre historiese oorsake wys, wat die verskynsel probeer teoretiseer in terme van die etologie, klassestryd, adaptiewe evolusieleer, sisteemteorie of Actor Network Theory, is die antwoord ongetwyfeld bevestigend. Stellenbosch is internasionaal bekend as ʼn vooraanstaande universiteit met talle gespesialiseerde sentra en institute wat hierdie kwessies in verskillende kontekste van ondervraging navors. Maar die effek van hierdie navorsing op die algemene sfeer en tonus van die universiteitsgemeenskap is grotendeels miniem. Oppervlakkig beskou lees die Universiteitsomgewing as ʼn kraal van soetjiespoepers waar ʼn  apolitiese en onbewuste studenteliggaam volgens die korporatiewe model as  ‘kliënte’ en ‘kennisvennote’ bedien word.

        Tot vandag toe vertoon die dorp ook byna onveranderd die ruimtelike ordening van Apartheid, met ʼn wit dorp in die sentrum, buiteliggende swart en bruin townships, daaromheen ryk wingerdlandgoedere waar arbeiders dikwels nog in nypende armoede leef. Mens sou kon wys daarop dat indien daar, in so ʼn relatiewe klein dorp waar soveel ryk, studerende en geleerde mense gekonsentreer is, in al die dekades niks kon verander aan die basiese ongelyke inrigting van die lewens van die inwoners nie, dit onwaarskynlik is dat dit op enige ander plek in Suid-Afrika kan gebeur (vgl. Ewert, 2013: 255-268).

 

Intermezzo

Die ou meulsloot – Allegro bisbigliando

 

O opvang van weerlose water uit voorhistoriese valle, o saamloop van takke tot ʼn springende stroom, o saadryke skuime in vlokke op varre, o blêr van die rietbok, hoes van die luiperd, rivierkos van die dolende klein mensestamme, o gerug van die anker en die pikhouweel,  o die stomp verkenner in die weerlose vallei, die veldkornet te perd met die kykglas uit sy knapsak wat die vleiroos nader ruk, o pluishoed van die goewerneur, o daghregister waar hy skryf: ‘Eylantje omstroomt met verse water rontsom met hooge boome beplant’, o eerste gemesselde vloeigang, o amber in emmers in die gewelwitte Laan, o sluise van Mostertsdrift, o die leibeurt vir die vryburgerspampoen, o kappende meulwiel met ysere range, o meel, o brood, o mame se kindjie, die voete van die slawevrou gelawe in die sloot, o saad van Lage Oost-Indische kers uit haar roksome gelek, o kinders moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink, o, groot gemaal van die opgaardam,  o slootversorging liefdevol deur die miljoenêrs van Rowanstraat,  o stuk vir stuk gedempte dorpse watergang,  o oorbrugde, blaarbevaarde, beslaapte en besoedelde walle, o liedjie van die blomverkopers wat mens soms nog in die rondte waan, o suikerkanne, speldekussings, o waar’s die smouse aan die sykant van die Rynse kerk daar teen die sitwal van die ou meulsloot?  Stellenbosch die roep mens, maar weet mens of jy bly of gaan?

 

Minuetto

Van grooteet tot fynproe –  Allegro strepitoso

 

Dit is op Bolandse dorpe waar die eenvoudige eetgewoontes van die agtiende en negentiende eeuse platteland tenietgegaan is. Waar mens elke dag op die omringende plase dinge soos wurgpatat, stadige intrap (dik boontjiesop), melksnysels, ʼn poek vet en ʼn homp brood geëet het om vol te kom, was dit in die blink dorpe ʼn saak van eer om ʼn ‘goeie tafel’ te hou. Maar wat beteken ʼn goeie tafel op Stellenbosch as jy dit nie voor die oë van jou rivale kan tentoonstel nie?

        Mens dink aan die passasies in Verkenning waar Karel Schoeman die fenomeen van ‘Grooteet’ uitvoerig beskryf. In die hoofstuk oor Stellenbosch skryf hy uit die perspektief van die Nederlandse reisiger oor die leefstyl van die dorpenaars, oor: ‘(D)ie groot huise in hul tuine, verskole agter bome, waar die vertrekke altyd koel en skaduagtig is, die voetval van die slawe, die kwistige vertoon. Die protserigheid en opsigtigheid, die oordadige maaltye…’ (Schoeman, 1996:113). Tydens die bruilofsmaaltyd is die jong man verbyster deur die skottels kos wat deur die slawe opgedra word en die manier waarop die mense ‘(uit)reik om te sny en te skep en hulle borde vol te laai: kerries en pasteie en gebraaide vleis en hoenders, en ’n hele gebraaide vark wat onder algemene toejuiging opgedis en van tafel na tafel rondgedra word’ (Schoeman, 1996:129).

        Hierdie uitbeelding van Schoeman skyn geen skrywerlike fantasie oor die vroeë Bolandse gewoontes te wees nie. In haar boek Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806 haal H.W. Claassens in haar hoofstuk oor die Kaapse gemeenskap tussen 1707 en 1806 uit ʼn brief uit 1710 aan van die man van die kleindogter van Jan van Riebeeck: ‘’t is of de Caab van vretten en suypen aan malkander hangt’ (Claassens, 2006:115). Dienooreenkomstig skryf Cornelis de Jong in sy reisjoernaal van 1791-1797 oor die Kapenaars: ‘Over het geheel ken ik geen menschen, die sterker eten, sterker drinken en meer slapen’ (Claassens, 2006:115). Lady Anne Barnard berig oor die ete wat sy in 1797 op Wellington aan huis van ene Benjamin Weigt geëet het, dat dit behalwe rys, ook ’n Kaapse ham, die goedgestopte agterkwarte van ’n wildsbok, twee eende, kerriehoender, ertjies, boontjies, kool, ’n slaai met twee dosyn hardgekookte eiers versier, gebakte vla, verskeie pasteitjies en aarbeie as nagereg ingesluit het (Claassens, 2006:116).

        Mens wil amper sê, dat as dit so gegaan het op Wellington, mens liewer nie wil weet tot watter eksesse Homo Stellenboschianus in staat was nie. Volgens Claassens was die vertoon en standbeheptheid  in die Kaap en omgewing onder andere veroorsaak deur die voorbeeld van die hiërargies geordende VOC. Die tafel is gesien as ʼn plek waar die gasheer sy stand en rykdom as ’n onafhanklike en gesaghebbende persoon kon demonstreer. Die kulinêre vertoon was aan die ander kant miskien ook ’n reaksie op die ontberinge wat die mense aanvanklik in die eerste dekade van die verversingstasie gely het. Verder sou dit ʼn nabootsing kon wees van die rykmanstafels in agtiende-eeuse Europa, waar die aantal geregte wat aangebied kon word tydens ʼn ete, wetlik beperk moes word (Claassens, 2006:116).

         ’n Interessante fase in die metamorfose van ‘Die ou soort’ Afrikaner wat hou van sy rondebord met verskillende soort kos, sy potjiekos en sy braaivleis, is dié van die hoogdorpse fynproewer. Sy verskyning gaan gepaard met sy vestiging as lid van die hoër middelklas en die politieke mag van sy party en dit gebeur op Stellenbosch in die sestiger en sewentigerjare. Die fynproewer is ’n glanspersona van die volk en sy kos is volkskos maar in ʼn glorieuse modus. In die voorbeeld wat ek wil behandel is hy ook nog voorsien van ’n glinsterende vetrandjie Bolandse bellettrie. Hy is lid van ’n selfbewuste groep eters en kokers wat mekaar onderling formeel respekteer. Die groep noem sigself ’n ‘gilde’, en die gilde beliggaam ’n wil tot die bestendiging van die outentieke en die eiendomlike.

        Die kookboek met die veelseggende titel So eet ons in Stellenbosch (voorts SEO) uitgegee in 1979 deur die Fynproewersgilde ter geleentheid van die driehonderdjarige bestaansviering van hulle dorp, dien as voorbeeld van kulinêre selfdoding, nie net vanweë die verbeeldingloosheid van die resepte en die saai taaltjie waarin hulle opgeskryf is nie, maar ook vanweë die idee van ’n ewige herhalingswaardige tradisie. Behalwe die ‘verewiging’ van ’n essensiële Stellenboschkos, vervul die Fynproewersgilde se boekie al die funksies van ideologie, naamlik verhulling, verdraaiing en reïfikasie.

        Die resepte word, om mee te begin, ingedeel onder die seisoene. Die kostradisie van Stellenbosch word voorgestel as diep gerym met die ritmes van die natuur. Die natuursanksie word aan Stellenboschkos toegedig deur dorpsdigter D.J. Opperman, die ‘scriba van die carbonari’ (Opperman, 1950:9). Die poësie van gekanoniseerde digters is, soos ons weet, op Stellenbosch slegs ’n oogknip verwyder van die Heilige Skrif. As jy ook nog ’n kanonskeppende digter is (iemand wat die Afrikaanse digkuns bloemlees vir die voorgeskrewe mark), dan is jou formulerings by kwepers en snoek niks minder nie as Blomme van die Stoofpot – hulle balanseer jou Blomme van die Baaierd en jou Blomme van die Bose met ’n outentieke en gemoedelik huishoudelike glans.

        Die ‘naturalisering’ van selfwording aan die hand van die seisoene was ná van Wyk Louw se ‘Vier Gebede by Jaargetye in die Boland’ (Louw, 1936:61-66) nie nuut in die Afrikaanse poësie nie, en hoewel mens sekerlik nie hierdie ‘spitsvondige’ geleentheidsgedigte van Opperman wil vergelyk met die deinende patos deurdrenkte sonnette van Louw nie, het die twee versreekse, selfs al is die een geplaas in die gemoed van die biddende Bolandse wandelaar en die ander in die dampkring van die welgevulde Bolandse haard, iets gemeen: ons welsyn, so skyn Opperman en Van Wyk Louw respektiewelik te beweer, word in stand gehou, nie deur ons polities gewaarborgde en kapitalisties ondersteunde klasposisie nie, maar deur die onweerlegbare voorbeeld, maat en stemming van die jaargetye. 

        Volgens Opperman is jy in die herfs onvermydelik ‘ontspanne’ en voel jy ‘die eerste snoek (wat) in jou loop’ (SEO:5), in die winter praat jy vanself ‘met intiemer tongval’ en word in jou die klippe van die Eersterivier ‘ronder omgerol’ (SEO:19). In die somer weer ‘gloei jy van welbehae teenoor bure en besoekers’ (SEO:45). Vir die lente versin die digter ietsie stuitig om die vrome Calviniste mee te titteleer: ’n seksueel getinte voorjaarsbaldadigheid kompleet met Middeleeuse minnesangersallure – so fraai dat selfs die dominee dit sal kan waardeer:  ‘Jy ....drink jong wyne op bobbejaantjies en fluweeltjies…die beskeie/ eerste proe aan die rooi punte van aarbeie.’ (SEO:33)

        Die verhewe natuurretoriek waarmee Louw selfwording uitbeeld, word deur Opperman tot ’n ‘aardser’, trant gemoduleer. Die wellewendheid van die welgestelde wit Bolandse dorpenaar word veralgemeen tot ’n natuurlike standaard van menslikheid. Die fynproewers dra dienooreenkomstig hulle boek op ‘aan almal wat belangstel in ʼn goeie tafel wat onafskeidbaar verbonde is aan ons tradisionele gasvryheid.’ (SEO: kolofonbladsy).

 

Intermezzo

Vir ʼn stukkie brood – Largo parlando dolente

 

Hoeveel onse daar op hierdie pond is, kan met die minste moeite vasgestel word in die boekie Vir ’n stukkie brood, ses jaar later uitgegee deur die Afrikaanse alternatiewe uitgewery Taurus. Hier ondersoek Sandra Kriel die lewensomstandighede van plaaswerkers in die Stellenbosch-omgewing. Sy voer onderhoude met vroue in die loop waarvan ook hulle kook- en eetgewoontes ter sprake kom. Die boek was een van die eerste van hierdie soort dokumentasies wat ooit in die streek gedoen is. Dit is ’n durende herinnering aan almal wat gevange is in middelklas gemaksones, dat daar ’n uitdyende periferie van skraaparm bruin huishoudings, van alkoholmisbruik en geweld en lyding, reg rondom die witgepleisterde fynproewerskultuur bestaan.

        Die volgende uittreksel uit Kriel se onderhoud met Rousie September illustreer nie alleen iets van die arm bruin mense se kombuis nie, maar ook van ’n Afrikaans wat ver verwyderd staan van die rederykery van Mosterdsdrift:

        ‘Ek krap my eie afval oek. Koek die afval. In die water, sterk warm water.     Beespote, krap hom af. Silwerskoon. En as ek hom afsit in warm water… party mense brand hom af in die vuur, maar ek nie, hy’s pikswart, dan’s hy bitter mos, maar ek krap in die sterk warm water….Water moet koek onder die kloue dat hy los is. Moet eintlik nie baie koek nie. So tien minute moet jy hom koek. Dan moet jy hom uitslat. Wanneer jy hom baie laat koek, dan brand die poot mos vas. Sy dop, slat ek hom uit dan spoel ek hom af. Was hom spierwit. Afgewas, dan koek ek my een beespoot. Maak ek sulk. As ek afval het, dan maak ek my afval skoon. Die kop en pootjies. Maak kerrie-afval.

 

Skroei hom af die kop. Pens koek ek sommer dieselfde dag. Ek krap hom sterk warm af. Dis ... hoe sê hulle? vliesel binne-in. Trek die vlies uit, solank hy nog warm in die water, sterk warm is. Binnevlies, die geel vlies wat binne-in sit. Trek daai buitevlies af. Was hom af en sny hom stukkies. En ek koek vir hom. Boontjies of plein soes ek wil hê. Kerrie plein soes ek wil hê, en aartappels klein blokkies. Rys eenkant.’ (Kriel 1983:85)

 

By die lees van so ’n relaas voel mens dat die fynproewers hulle boek dalk ietwat nederiger kon betitel, byvoorbeeld: So eet party van ons in Stellenbosch.

 

Van fynproe tot grooteet vervolg – Minuetto strepitoso

 

Hoewel ’n uitgesproke of getematiseerde bewussyn van breuke, alteriteit, en kontradiksies nie oor die algemeen in kookboeke voorkom nie, voel die afwesige en die oorgeslaande van hierdie fynproewersboek ekstra peperig aan vanweë die illustrasies. Op die omslag kry mens, in ooreenstemming met die wellewend beskaafde ‘feestelike’ sfeer van Opperman se gedigte, tekeninge van die ‘erfglase’, die skottels en kandelare teen die agtergrond van die Pieke. Op die titelblad is daar ’n tekening van vrugte en groente op ’n broodplank in die styl van die klassiek informeel-gerangskikte cornucopia. Maar dan volg ’n reeks tekeninge wat nie, soos mens sekerlik in die sewentigerjare sou kon verwag, verwys na professore in dagpak en boere in sportbaadjies en hul gades omhang van varswaterpêrels in chintzy eetkamers nie. Die tekeninge is landelik- soetsappige voorstellings van ’n soort veralgemeende ‘vervloënheid’ waar, teen ’n geykte Kaaps-Hollandse argitektoniese agtergrond, bruin mense, uitkenbaar aan duidelike etniese fisionomiese merkers, as ’n diep geborge en volledig ‘versoende’ laer klas voorgestel word. Lieftallig verkoop hulle vis van ’n karretjie (SEO:6), soet buk hulle in die wingerdrye om die druiwe te oes (SEO:46). Benewens die reïfikasie van die koskultuur as ’n natuurgegewe, het ons hier te make met die twee ander funksies van ideologie, naamlik verdraaiing en verhulling van die materiële moontlikheidsvoorwaardes van die Stellenbosse fynproewerslewe en die politieke en klasseformasies van die tyd.

        By al hierde tekens van die ‘misverstand’ waaronder die Fynproewersgilde gebak en gebrou het, wonder mens oplaas hoe fyn hulle eintlik kon proe. Aromat (9), (kommersiële) ‘kerriepoeier’ (24), margarien (31), ekstrakblokkies (38), voedselkleursel (28), vlapoeier (31), en, les bes, ʼn pakkie beesstert soppoeier, nogal in die bobotie (24), is ’n aanduiding van die fynheid van hierdie fynproewers se tonge. Dit maak dat mens hierdie boek met ’n knippie Aromat neem. Dit is ʼn voorbeeld van kulinêre amateuragtigheid, waarmee daar uiteraard op sigself niks verkeerd is nie – die  kombuis is by uitstek die speelplek van die amateur – maar as dit gepaardgaan met soveel selfgelukwensing en selfoorskatting, is dit nie alleen deernis met die menslike wat by die leser gewek word nie.

 

Vamp till cue

Sleepy hollow tussen die berge – Slentando

 

        Hoog bo die dorp staan die rotsige berge,

        die een reg noord ʼn stekelakkedis

         voortsloffend met sy kop na die see,

         die ander, oos, ʼn oerbees, met ʼn stoets

         gekonsentreerde kop bo groenbegroeide flanke,

        daaragter die magtige Banghoekskedel

        wat winter en somer die ondinklike dink.

        Bo die noordoos-, suidoosklowe ʼn stolwerk

        vertikaal gegroefde en geradbraakte kolosse

        wat die asem van arende braveer,

        in die weste heuweltoppe en glooiinge alom

        en dan ʼn poek, opgestoot vanuit ʼn breë fondament,

         ʼn uit die aarde geboetseerde en versteende drol

        wat solied en onomstootbaar die suidekant bewaak.

 

        Die berge, hul barbaarse gestaltes, geskets en gestileer

        deur Schumacher, Van Stade, Lady Anne, kry name

        wat hul dorps domestiseer, word op poskaarte be-purper

        tot baroktoneel en deur landmeters, digters, komponiste

        met dennewoude, ʼn kantate en ballades besweer – 

        Simonsberg, Bothmaskop, Banghoek,

        die Tweeling Pieke, Stellenboschberg, Papegaaiberg – 

        massiewe uit die magma opgekolk,

        onbeweeg- en onbeboubaar, onbedoeld,

        vererg saam met die bobbejane

        die boere en die wingerdminnende geleerdes.

 

        Hul word beklim deur kloeke generasies, wat eeu na eeu

        tydelik ontheg afkyk op die enkrustasie in die holte,

        wit gepleister, rooi bedak, sy paar blou strate, sy waterslote,

        klein gelui en vergeefse bolwerk wetenskap in ʼn eikbeplante raster,

        die uitsaai van sy sentrumsweer in negeoë armoedsones,

        Idasvallei, Cloetesville, Kayamandi, en ander vuiler afvalplekke –

        loogplaas, storthoop, begraafplaas, industrie,

        met die wit idiote elektries omhein op die westereinder,

        die raserige uitlaatpypvervangers en wielomruilers

        in garages aan die noordelike poort.

 

        Die snode klimmers, argitekte, godbesmuiktes,

        eenmaal tuis, verknies hul steeds oor soveel onbeskrede hoogtes,

        al die bo-af waargenome tussenruimtes van hul dorp,

        eenmaal tuis hulle die heinings waardeur mens van hier

        tot daar kan kyk, nie kan gedoog en presies op alle leë plekke,

        as troos en as verweer, edifies op edifies, muur vir muur optrek.[1]

 

Rondo capriccioso

Wors – Con brio

 

Praat met wildvreemdes in ʼn Stellenbosse supermark en mens kan gou ʼn diagnose maak van die buurt waar jy jou bevind. Hoe waterdig sy waan en wande is, hoeseer sy illusies na buite lek, watter aspekte blote verfraaiing van sy vooroordele is en waar sy gevoelighede sit.

        Neem byvoorbeeld die situasie voor die worsrak in ʼn upmarket supermark van Stellenbosch soos die Spar. Dit is ʼn heelal van stralende lig en vervul van liefde en die verbruikers daar verteenwoordig die kroon van die skepping. Maar daar is te veel wors en daar is ook te veel soorte wors en hulle name laat selfs die mees goedgelowige sterfling duisel.

        Kameeldoring, Blokmanspesiaal, Helshoogte, Yuppie, Buppie, Mummie, Blog, Swartvark, Halleluja, Langbees, Short Fuse, Gourmet, Der Hirt auf dem Felsen, Incredible Connection, Koljander, Skarrelskaap, H. B. Thomskaap, Nuwe Afrikaner, Linksgemaalde, Regsgedraaide, Voortrekker, NG-Gemeente Brackenfell-Oos, Strandloper, Uitkamp, FoKof MusKiet,  Binnebraai, Howzit Weber, My Boy Willy, Outeniqua, Ossewa-Brandwag, Sarie Marais, Viertrek en Ware Velskoen.

        Mens sien hoe maal die mense voor die rak, oewerloos, radeloos, moederloos. Mens sien hoe vat-vat hulle aan die pakke, hoe wantrou hulle die name, hoe swymel hulle van momentele identifikasie, hoe weerstaan hulle die versoekings, hoe swig hulle voor die verlange na ʼn agtergelate of ʼn voorgenome self. Mens sien hoe kyk hulle op hulle horlosies, mens sien hoe bid hulle, laat hierdie wors aan my verbygaan, mens sien hoe hulle noodseine en hulpgeroep uitstuur op hulle selfone. Sommige hink op twee moontlikhede, ander is flink aan die jongleur met ses verskillende soorte, een mevroutjie hang oor haar trollie, haar sinne verbyster, haar hele plan en voorneme gekelder deur die Babel van worsetikette.

        En dis uit simpatie en uit vereenselwiging dat mens naderstaan. Want mens wil ook wors koop en jy dink, daar is geen probleem so ver of woes geleë wat nie deur innige gemeenskap en redelike konsensus opgelos kan word nie.

        Jy skuifel dus tussen die skare in en takseer jou medeworskopers op hulle graad van ontreddering. En met liefde in jou hart en uit opregte meegevoel spreek jy ʼn dame aan wat veel sekerder lyk van haar saak as die meeste en ʼn stabiele uitdrukking op haar gesig het. Vaste burg, dink jy, Nederduits Gereformeerd, sy sal alles weet wat nodig is om welgetroos en salig te braai.  En met die mees wellewende toon, steek jy van wal.

        Mevrou, u lyk vir my na iemand wat haar wors ken, kan u iets hier aanbeveel

        Gits, trek sy daar vir haar regop of jy op ʼn kobra getrap het, haar in haar boudoir in haar vormdrag betrap het, haar kollektegeld uit die bordjie gegaps het, of voorgestel het dat sy ‘The Zipless Undertaker’ van Erika Jong[2] lees.

        Pardon, sê jy, ek het nie bedoel om u aanstoot te gee nie.

        Geen versagting. Jy het oortree. Jy het ʼn private domein geskend. Jy het advies gevra oor wors. Sy kyk jou dat jy agteruit-agteruit padgee en wens jy kan verdwyn in ʼn sak brikette. Die heelal is duister, dink jy, en ons is diere oorval deur katastrofes. En jy verlaat die winkel sonder wors. Jy eet wortels en jy koop twee weke lank nie proviand nie.

        Maar jy leer nie, en nog ʼn week later – want jy is tog so lus vir ʼn worsie anderhalf duimpie bo-op ʼn stukkie botter en brood – daar staan jy wragtig weer voor dieselfde rak en jy dink die mensdom is nie normaalweg so liggeraak nie. En jy probeer weer. Dié keer kies jy iemand wat meer tentatief en allesomarmend lyk en om wie se mond daar allerlei menslike skakerings van oordeel, twyfel en verlekkering speel.

        Mevrou, jy lyk vir my na iemand wat kennis dra van wors, kan jy my sê wat is ʼn goeie kopie hier?

        Herehartjie, jy vra, trek sy weg, ek sê die ander dag vir Sors, dis nou my man wat dink hy is die beste braaier in die land, al is daar niemand wat met hom saamstem nie, allermins ek, ja ek, kyk na my lyk ek vir jou na ʼn vrou wat lus is vir gedingesde wors? Ek wat rondspring en alles regkry wat hy by sy wors wil eet? piesangslaai, braaibroodjies, aartapppels, groenmielies en heelappelkoos-en-marshmallowsosaties terwyl hy daar by sy vuurtjie staan en dinges, ek sê vir hom Sors, sê ek, hoe lank braai jy al my liewe man, en nog steeds kry jy nie jou timing reg met die kole en alles wat moet gaar kom nie, en elke keer sê hy vir my Martha, ek is Martha Viviers aangename kennis, ek sê vir Sors hoe lank braai jy al wors en altyd is dit ʼn gedinges en elke keer, die cheek, sê hy vir my, dis oor jy, my vrou van twintig jaar, altyd die verkeerde wors koop, het jy al in jou dag des lewens? ek sê vir hom gaan dinges Sors, dis die beste wors wat daar is en dan is dit hier te kort en daar te lank, as die wors rou is sê hy dis te styf gestop, as dit gebrand is sê hy dis nie vet genoeg nie, as dit rimpel dan sê hy dis katderm, as dit bars sê hy dis donkie-lies, as dit knoop sê hy dis halaal, as dit een kant lostrek is dit kamtig kosher, en so dinges hy aan, maar as ek jou nou kan raadgee oor wors, hartjie, braai sélf, laat hom in sy dinges in in die voorhuis voor die TV sit en braai sélf, en dan kan ek die volgende aanbeveel afhangende van jou hout en of jy darem iemand het om te help in die kombuis, mind you, as Sors help dan het jy weer die kans dat jy die wors en die vleis perfek braai, maar dan was daar weer ʼn gedinges in die kombuis en die braaibroodjies is nie van buite gebotter nie en die marsmallows val van die stokke af voor hulle naby die vuur kom en dan kan jy net sowel opgee en vir jouself ʼn dop skink en retire met ʼn pak chips en die Fairlady in jou slaapkamer, want dan moet jy hoor hoe ontevrede is hy, net soos jy dink die wors is die hoofsaak, as dit maar goed gebraai is maar dan sien jy hoe moan Sors Viviers oor die bykos wat hyself opge-ef het askies my taal my nooiensvan was Jordaan waar’s die dae.

        Teen daardie tyd het jy deur die hele winkel, gangetjie op en gangetjie af met Martha Nooi van Waar’s die Dae aan jou sy afgeloop en jou hele inkopielys is uit jou kop geklets. Dwarsdeur die betaalpunt worstel jy met haar en met net ʼn botteltjie grondboontjiebotter en ʼn pakkie dreinontstopper in jou mandjie en jy is uit op die parkeerplek en jy wil jou ry kry sonder wors, nooit meer wors nie, nie ʼn enkele gedagte daaraan nie, genees van die worsrak vir ewig, dan sien jy,  terwyl jy jou Volla rev, hier hang Martha van Sors by jou kleinvenstertjie en sy skud ʼn pakkie voor jou neus, hier hartjie, vat net asseblief die drievoudiggedingesde donnerse wors van my hande af, jy het  my nou finaal oortuig dis nie vir my nie, vanaand eet ons Viennas met tamatiesous tatta en dankie vir die gesels probeer Worsberg in Bellville volgende keer, maak net seker dis minder as tagtig persent vark dis geneig om die volgende dag suur te wees en dan wil jy nie vir Sors by die brekfis sien nie.

        Dis genoeg om vegetaries van te word, prewel mens vir jouself. Maar hou jou mond in godsnaam as jy in Fruit &Veg by die plompe blink eiervrugte staan. Moenie links of regs kyk nie, moenie dat een byvoeglike naamwoord jou ontval nie, moenie soek na ʼn medebewonderaar van hierdie wulpse vrugte nie, jy kan jou allerhande moeilikheid op die hals haal. Jy kan byvoorbeeld genooi word om aan te sluit by die Stellenbosch Klub van Auberginepoetsers. En dan sit jou turf in die dorp van godsvrug en genadegawes, want as jy gedink het die vleisetende hoofstroom is problematies, dan is die helfte jou nog nie vertel nie. Die Stellenbosche  vonkelfranje is waar jy pas die verhewe halfgaar oesterswamme in ʼn skuimpie van Veuve Cliqot teëkom, as amuse bouche, plaaslik  uitgespreek as: aha! muisbosch!

 

Bronne:

Claassens, H.W. Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806. Pretoria: Protea Boekhuis 2006.

Ewert, J. ‘Poverty and Inequality. Stocktaking of the Social Landscape of Stellenbosch’ in Swilling, M. Subitso, B. Loots R. (reds.) Sustainable Stellenbosch – Opening Dialogues. Stellenbosch: Sun Media 2012. 

Giliomee, H. The Afrikaners. Biography Of A People. Kaapstad: Tafelberg 2003.

Kriel, S. Vir ’n stukkie brood. Emmarentia: Taurus 1983.

Louw, N.P. van Wyk. Die halwe kring. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk 1937.

Oosthuizen, J. (red.). So eet ons in Stellenbosch. Kaapstad: Human & Rousseau 1979.

Schoeman, K. Verkenning. Kaapstad: Human & Rousseau 1996.

Stellenbosch Fynproewersgilde. So eet ons in Stellenbosch. Kaapstad: Human & Rousseau 1979.